Hulle gesels oor God, oor God en die dinge van God.
Die een vertel dat jy mag nie God of HERE se nie want "God" beteken eintlik niks nie - dit is sommer maar net n mensgemaakte titel. Here kan ook"Baal" beteken. Jy behoort net antieke Hebreeuse letters te gebruik wat niemand eintlik weet hoe om uit te spreek nie. DAN dien jy die ware Skepper.
Die ander gee n vloek en skreeu: "Jy Ef... dwaal man! God is GOD, man! Ek KEN God!"
n Derde ou begin die vuur ernstig stook: "Ek glo in God maar ek verpes die "kerk". Dit is nou vir jou n Heidense besigheid, pure Vrymesselary en Iluminatie kruipery. Nee wat ek dien God by my huis, alleen, saam met my gesin."
Nou veg hulle behoorlik! Dit is volk vs Kerk en Kerk vs Gemeente, Gemeente vs Gelowiges.
Ek laat sak my kop sodat hulle nie my glimlag sien nie.
n Lekkerkry kom maak nes in my binneste - Dit is mos hoe dit hoort! Christen teen Christen, Dit is so mooi as hul mekaar opvreet, uitskel en mekaar haat.
Die Christen dink mos hy besit God! Elke half gebakte ou Christentjie dink hy het die GROOT Waarheid beet. Ek geniet dit so wanneer hulle mekaar aanvat en verskeur, dit gee my tyd om rustig en onverstoord my werk te doen. Hulle bly uit my pad uit en hulle baklei so lekker met mekaar dat hulle nie tyd het om daardie haatlike Evangelie te verkondig nie.
Die Christen van hierdie era is my beste vriend en vennoot - hulle skep meer Agnostici en Atheiste is wat in die afgelope eeue saam gewerf is.
Die Christen van hierdie era is die vernietigende mag van hul eie godsdiens!
Amper skreeu ek: Haleluja!
Hah.....
Hierdie geslag het die kennis van die Ware God verloor, hulle skep vir hulself stamgodjies en selgroepgodjies en huisgodjies en sagte ou troos godjies. Van die krag van die Koninkryk van die Koning van alle konings weet hulle maar min. (Ook maar goed so!)
Die Christen van hierdie eeu ontken in misken die almag van hul eie God, hulle soek n godjie wat hulle kan beheer. Hul soek n godjie wat sal luister na hulle ideologie en hulle leerstellings. Party skep n wit god, ander skep n swart god. n Ander groep daar onder langs die river hou van n nat god. Daar bo-op die bult is daar diegene met die blink god en die voorspoed god. Eenkant in die donker sit en speel die banges met hulle wraak god wat vuur uitspoeg en mense verwoes.
Ek staan open vee die roet van my hande af: "Ai, ek hou van hierdie jaar se Christene!"
My werk is amper voltooi, ek stap fluit-fluit my grot binne.
My naam is Lucifer.
Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val. (Spreuke 28:18)
No comments:
Post a Comment