Saturday 26 September 2015

Die dom god

Hierdie week het n klomp artikels en berigte in my kop kom nes maak.
Ek raak nie sommer omgesukkeld oor nuusgebeure en die rieldansery van die werelspolitici nie. Maar hierdie week was n ander week!
Ek het sommer n skielike  'gatvolheid' bereik. Dit was n totale emosionele en kognitiewe aanslag.

Ek lees van n bloedmaan en Christene se vrees daarvoor of hul aanbidding daarvan, mense vertel grootoog vir my van die groot klip wat uit die hemerruim gaan val en ou Koos Suidland wat wragtig weer begin het om al Checkers se blikkieskos op te koop (die wat op special is),  nog n ander ou koop weer dromme diesel aan vir die kragopwekkers en laat service die 4x4 Hilux.
Dan lyk dit vir my die wederkoms het in Amerika plaasgevind - die Pous prewel sy prewel in die hartland van Amerika. n Amerikaanse politikus aanbid terwyl trane oor sy wange loop en n ander steel die ou Jesuiet se waterglas en drink daaruit, gee vir sy vrou ook n sluk en sprinkel die res oor sy kinders (klink amper soos Eva, Adam en die Appel).
Die Pous noem Islam n godsdiens van vrede en moedig almal aan om hul arms wyd oop te gooi vir die Islam-tsunami wat aangerol kom.
Aan die anderkant van die see wip die duiwel hom vir al die klippies wat die Hajj-gangers na hom gooi en skreeu: "Boe!!" en hulle trap mekaar by die honderde dood. Die res van die Moslem hordes is op hul eie pelgrimstog na die vleispotte van Duitsland (ek wonder of hul weet hoe lief die Duitsers vir hul ou varktjoppie is?).
In Suid-Afrika brand die 'townships' al weer en n nuwe generasie tyres word met duur petrol gedoop en n nuwe geslag jeugdiges word ge-neclace. Ek voel soos ou Rip van Winkel en dag ek is weer in die Army van die vroeg 80's en voel-voel na my ou geliefde R1. (maar toe lui my Samsung en ek word wakker). Die SA regering verbind hom tot totale transformasie van die Suid-Afrikanse  gemeenskap (hierdie woord gaan nog langs die woord:'apartheid' staan as n kragwoord). En so transformeer die Afrikaner maar saam, Kinders is skaam vir die skeldnaam: Afrikaner. Grootmense deins terug daarvoor omdat dit gekoppel word aan rassis. Ou mense droom van die goeie ou dae.
Ons stry maar eerder oor ons taal en begrawe ons dooies in stilte.

Maar die skerpste klippie in my skoen is die predikante wat vertel dat alles is OK - van watter planeet kom hulle? Die anderdag vertel n pastoor met n goue oorlosie en moerse Bybel: "Jesus het gekom dat jy voorspoed kan he! Jy moet die Koninkryk van God aftrek na jou toe, man. Jy het die mag gekry om te skep, skep vir jou n voorspoedige lewe! Waar is jou geloof?
Orals spring daar profete, profetjies en profetesse op. En alles is goed en reg en mooi. Al die oordele word gehou vir die heidene en daardie verskriklike Christene wat dit durf waag om die profeet te ignoreer en die Bybel te glo - LAAT HULLE BRAND!
Die groot Kerkleiers en Skrifgeleerdes plaas vraagtekens agter alles wat eers vas was: Die Bybel; Jesus Christus; die Kerk; Verlossing.

Miskien ken hulle n ander god, ek weet nie. Met al die gewoel in die wereld en die deurmekaar word van die mens, is daar nie n antwoord van hoop van hul kant af nie.
Hul god is dom.
Hulle god moet geleer, gelei en bejammer word.

Maar ek ken n ander God. n God wat werk, waak en uitroep. n God met n Plan. n God wat n sirkel om Tyd getrek het en n begin en n eindpunt daargestel het.
n God wat ingedagte hou dat die mens maar net stof is.
n God met geduld en deernis wat Sy kokende woede in toom hou vir ons onthalwe.
n God wat uit die donker onweerswolke na jou roep om jou nonsens te stop en jou verdomde ore oop te maak.



Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord en gesĂȘ: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos ‘n man jou heupe—dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.
(Job 38:1-3)

Sunday 3 May 2015

Die Godbesitters

Ek hoor die manne  vandag gesels.
Hulle gesels oor God, oor God en die dinge van God.
Die een vertel dat jy mag nie God of  HERE se nie want "God" beteken eintlik niks nie - dit is sommer maar net n mensgemaakte titel. Here kan ook"Baal" beteken. Jy behoort net antieke Hebreeuse letters te gebruik wat niemand eintlik weet hoe om uit te spreek nie. DAN dien jy die ware Skepper.

Die ander gee n vloek en skreeu: "Jy Ef... dwaal man! God is GOD, man! Ek KEN God!"

n Derde ou begin die vuur ernstig stook: "Ek glo in God maar ek verpes die "kerk". Dit is nou vir jou n Heidense besigheid, pure Vrymesselary en Iluminatie kruipery. Nee wat ek dien God by my huis, alleen, saam met my gesin."

Nou veg hulle behoorlik! Dit is volk vs Kerk en Kerk vs Gemeente, Gemeente vs Gelowiges.
Ek laat sak my kop sodat hulle nie my glimlag sien nie.

n Lekkerkry kom maak nes in my binneste - Dit is mos hoe dit hoort! Christen teen Christen, Dit is so mooi as hul mekaar opvreet, uitskel en mekaar haat.
Die Christen dink mos hy besit God! Elke half gebakte ou Christentjie dink hy het die GROOT Waarheid beet. Ek geniet dit so wanneer hulle mekaar aanvat en verskeur, dit gee my tyd om rustig en onverstoord my werk te doen. Hulle bly uit my pad uit en hulle baklei so lekker met mekaar dat hulle nie tyd het om daardie haatlike Evangelie te verkondig nie.
Die Christen van hierdie era is my beste vriend en vennoot - hulle skep meer Agnostici en Atheiste is wat in die afgelope eeue saam gewerf is.
Die Christen van hierdie era is die vernietigende mag van hul eie godsdiens!
Amper skreeu ek: Haleluja!
Hah.....

Hierdie geslag het die kennis van die Ware God verloor, hulle skep vir hulself stamgodjies en selgroepgodjies en huisgodjies en sagte ou troos godjies. Van die krag van die Koninkryk van die Koning van alle konings weet hulle maar min. (Ook maar goed so!)
Die Christen van hierdie eeu ontken in misken die almag van hul eie God, hulle soek n godjie wat hulle kan beheer. Hul soek n godjie wat sal luister na hulle ideologie en hulle leerstellings. Party skep n wit god, ander skep n swart god. n Ander groep daar onder langs die river hou van n nat god. Daar bo-op die bult is daar diegene met die blink god en die voorspoed god. Eenkant in die donker sit en speel die banges met hulle wraak god wat vuur uitspoeg en mense verwoes.

Ek staan open vee die roet van my hande af: "Ai, ek hou van hierdie jaar se Christene!"

My werk is amper voltooi, ek stap fluit-fluit my grot binne.

My naam is Lucifer.


Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val. (Spreuke 28:18)

Friday 13 March 2015

Woorde, keuses en hul gevolge

Ek het vandag so n bitter smaak in my mond. Dit is nie maklik om met mense te werk nie.
n Stuk yster kan jy met n hamer slaan, jy kan dit met n grinder  bykom, jy kan dit weld, jy kan dit vorm en buig totdat dit lyk soos dit moet lyk.... maar die mens!
Die mens het n ding in die binnekant wat maak dat hy meeste pogings tot veranderings teenstaan. Hierdie ding word beheer en gevorm deur woorde, ander mense se woorde.
Jy kry mos hierdie bliksems (daar is nie n alternatiewe beskrywing nie) wat, net soos n roofdier sy prooi uitsoek, jag maak op kwetsbare en brose mense. Hulle kamoefleer hul ware aard en doelstelling en lok hul prooi tot binne bereik Stelselmatig begin hulle dan die lewenssap uit hul slagoffer suip. Met goed gemikte woorde en aksies verander hy sy slagoffer in n willose wese wat outomaties reageer op elke suggestie en bevel. Oor en oor oefen hulle hierdie beheer meganismes in en word enige poging tot weerstand brutaal gestraf, of met fisiese geweld of met n sadistiese verwerping van die ander persoon se persoonlikheid, karakter en mens-wees. 
Dit lyk vir my asof die slagoffers hierdie verwerping meer vrees as n paar vuishoue of warm klappe. n Vrou wat haarself in so n situasie bevind, vergryp haarself later aan elke ou krummeltjie goed wat na haar kant toe gegooi word. Sy lewe vir daardie aandag wat sy wel ontvang, of dit nou positief of negatief is. Enigiets is beter as daardie koue, afsydige verwerping. Ook aanvaar sy as haar eie hierdie valse beeld wat die bliksem soos n mantel oor haar gegooi het.... sy word dit, tree daarvolgens op en leer haar kinders om haar voorbeeld te volg. 
Dit is n siklus wat net aanhou en aanhou.
Dit is net woorde, ander woorde, beter en sterker woorde wat n draaipunt kan bewerkstellig. Dit neem tyd en dit neem geduld. 
Iemand moet vir hierdie slagoffer die ware beeld voorhou. Hulle moet weer bewus gemaak word dat hul n eie en unieke mens-wees besit. Hulle moet dit begin glo en gehelp word om weer daarop te reageer in plaas van op die trefwoorde van die bliksem. 
As ons maar net vir n slag aandag wil gee en die hartseer om ons raaksien en as ons net doelbewus mooi en beplande woorde rondom ons uitstrooi kan ons dalk iewers n ander se lewe aanraak. Kyk na hulle, soek na hulle - ek sien hulle werk in kantore, agter kasregisters, by die kerk. Ek sien hulle krepeer in plakkerskampe en welsyn shelters. Ek loop hulle raak in veiligheidskomplekse en ek sien hulle waar hulle n blou-oog agter R1000 grimering probeer wegsteek. Hulle oe lyk almal dieselfde.
Ek hoor soms hul geluidlose gille en snikke in my ore.

Ek ken die tekens want ek was nie altyd n predikant nie, ek was ook op n tyd n bliksem en so n ou is maar in sy diepste wese n lafaard met geen vermoe om die lewe en sy eise te hanteer nie. n Bliksem is n swakeling, menslike aasdier. Omdat hy nie kan opbou nie is sy enigste uitweg die afbreek van iemand anders.
Net soos n slagoffer gered kan word, net so kan n bliksem ook gered word - mens is net nie lus om so n ou te red nie!
Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. (2Kor. 5:17)
God verander die mens, Hy het my verander in iets wat byna bruikbaar is, 
Daarom weet ek hy kan enige iemand verander. God verander ons binne ons situasie en veroorsaak dan dat ons uit ons omstandighede kan groei.
Ons bevind ons soms knie diep in die ......., dit word die bemesting wat ons nodig het om te ontwikkel.

My gebed vir jou is dat jy mag insien dat verandering moontlik is, dat daar meer in die lewe is as wat jy nog altyd gedink het.
Woorde maak en breek n mens.
God het ook gespreek.