Hierdie week het n klomp artikels en berigte in my kop kom nes maak.
Ek raak nie sommer omgesukkeld oor nuusgebeure en die rieldansery van die werelspolitici nie. Maar hierdie week was n ander week!
Ek het sommer n skielike 'gatvolheid' bereik. Dit was n totale emosionele en kognitiewe aanslag.
Ek lees van n bloedmaan en Christene se vrees daarvoor of hul aanbidding daarvan, mense vertel grootoog vir my van die groot klip wat uit die hemerruim gaan val en ou Koos Suidland wat wragtig weer begin het om al Checkers se blikkieskos op te koop (die wat op special is), nog n ander ou koop weer dromme diesel aan vir die kragopwekkers en laat service die 4x4 Hilux.
Dan lyk dit vir my die wederkoms het in Amerika plaasgevind - die Pous prewel sy prewel in die hartland van Amerika. n Amerikaanse politikus aanbid terwyl trane oor sy wange loop en n ander steel die ou Jesuiet se waterglas en drink daaruit, gee vir sy vrou ook n sluk en sprinkel die res oor sy kinders (klink amper soos Eva, Adam en die Appel).
Die Pous noem Islam n godsdiens van vrede en moedig almal aan om hul arms wyd oop te gooi vir die Islam-tsunami wat aangerol kom.
Aan die anderkant van die see wip die duiwel hom vir al die klippies wat die Hajj-gangers na hom gooi en skreeu: "Boe!!" en hulle trap mekaar by die honderde dood. Die res van die Moslem hordes is op hul eie pelgrimstog na die vleispotte van Duitsland (ek wonder of hul weet hoe lief die Duitsers vir hul ou varktjoppie is?).
In Suid-Afrika brand die 'townships' al weer en n nuwe generasie tyres word met duur petrol gedoop en n nuwe geslag jeugdiges word ge-neclace. Ek voel soos ou Rip van Winkel en dag ek is weer in die Army van die vroeg 80's en voel-voel na my ou geliefde R1. (maar toe lui my Samsung en ek word wakker). Die SA regering verbind hom tot totale transformasie van die Suid-Afrikanse gemeenskap (hierdie woord gaan nog langs die woord:'apartheid' staan as n kragwoord). En so transformeer die Afrikaner maar saam, Kinders is skaam vir die skeldnaam: Afrikaner. Grootmense deins terug daarvoor omdat dit gekoppel word aan rassis. Ou mense droom van die goeie ou dae.
Ons stry maar eerder oor ons taal en begrawe ons dooies in stilte.
Maar die skerpste klippie in my skoen is die predikante wat vertel dat alles is OK - van watter planeet kom hulle? Die anderdag vertel n pastoor met n goue oorlosie en moerse Bybel: "Jesus het gekom dat jy voorspoed kan he! Jy moet die Koninkryk van God aftrek na jou toe, man. Jy het die mag gekry om te skep, skep vir jou n voorspoedige lewe! Waar is jou geloof?
Orals spring daar profete, profetjies en profetesse op. En alles is goed en reg en mooi. Al die oordele word gehou vir die heidene en daardie verskriklike Christene wat dit durf waag om die profeet te ignoreer en die Bybel te glo - LAAT HULLE BRAND!
Die groot Kerkleiers en Skrifgeleerdes plaas vraagtekens agter alles wat eers vas was: Die Bybel; Jesus Christus; die Kerk; Verlossing.
Miskien ken hulle n ander god, ek weet nie. Met al die gewoel in die wereld en die deurmekaar word van die mens, is daar nie n antwoord van hoop van hul kant af nie.
Hul god is dom.
Hulle god moet geleer, gelei en bejammer word.
Maar ek ken n ander God. n God wat werk, waak en uitroep. n God met n Plan. n God wat n sirkel om Tyd getrek het en n begin en n eindpunt daargestel het.
n God wat ingedagte hou dat die mens maar net stof is.
n God met geduld en deernis wat Sy kokende woede in toom hou vir ons onthalwe.
n God wat uit die donker onweerswolke na jou roep om jou nonsens te stop en jou verdomde ore oop te maak.
Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord en gesê: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos ‘n man jou heupe—dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.
(Job 38:1-3)