Friday, 13 March 2015

Woorde, keuses en hul gevolge

Ek het vandag so n bitter smaak in my mond. Dit is nie maklik om met mense te werk nie.
n Stuk yster kan jy met n hamer slaan, jy kan dit met n grinder  bykom, jy kan dit weld, jy kan dit vorm en buig totdat dit lyk soos dit moet lyk.... maar die mens!
Die mens het n ding in die binnekant wat maak dat hy meeste pogings tot veranderings teenstaan. Hierdie ding word beheer en gevorm deur woorde, ander mense se woorde.
Jy kry mos hierdie bliksems (daar is nie n alternatiewe beskrywing nie) wat, net soos n roofdier sy prooi uitsoek, jag maak op kwetsbare en brose mense. Hulle kamoefleer hul ware aard en doelstelling en lok hul prooi tot binne bereik Stelselmatig begin hulle dan die lewenssap uit hul slagoffer suip. Met goed gemikte woorde en aksies verander hy sy slagoffer in n willose wese wat outomaties reageer op elke suggestie en bevel. Oor en oor oefen hulle hierdie beheer meganismes in en word enige poging tot weerstand brutaal gestraf, of met fisiese geweld of met n sadistiese verwerping van die ander persoon se persoonlikheid, karakter en mens-wees. 
Dit lyk vir my asof die slagoffers hierdie verwerping meer vrees as n paar vuishoue of warm klappe. n Vrou wat haarself in so n situasie bevind, vergryp haarself later aan elke ou krummeltjie goed wat na haar kant toe gegooi word. Sy lewe vir daardie aandag wat sy wel ontvang, of dit nou positief of negatief is. Enigiets is beter as daardie koue, afsydige verwerping. Ook aanvaar sy as haar eie hierdie valse beeld wat die bliksem soos n mantel oor haar gegooi het.... sy word dit, tree daarvolgens op en leer haar kinders om haar voorbeeld te volg. 
Dit is n siklus wat net aanhou en aanhou.
Dit is net woorde, ander woorde, beter en sterker woorde wat n draaipunt kan bewerkstellig. Dit neem tyd en dit neem geduld. 
Iemand moet vir hierdie slagoffer die ware beeld voorhou. Hulle moet weer bewus gemaak word dat hul n eie en unieke mens-wees besit. Hulle moet dit begin glo en gehelp word om weer daarop te reageer in plaas van op die trefwoorde van die bliksem. 
As ons maar net vir n slag aandag wil gee en die hartseer om ons raaksien en as ons net doelbewus mooi en beplande woorde rondom ons uitstrooi kan ons dalk iewers n ander se lewe aanraak. Kyk na hulle, soek na hulle - ek sien hulle werk in kantore, agter kasregisters, by die kerk. Ek sien hulle krepeer in plakkerskampe en welsyn shelters. Ek loop hulle raak in veiligheidskomplekse en ek sien hulle waar hulle n blou-oog agter R1000 grimering probeer wegsteek. Hulle oe lyk almal dieselfde.
Ek hoor soms hul geluidlose gille en snikke in my ore.

Ek ken die tekens want ek was nie altyd n predikant nie, ek was ook op n tyd n bliksem en so n ou is maar in sy diepste wese n lafaard met geen vermoe om die lewe en sy eise te hanteer nie. n Bliksem is n swakeling, menslike aasdier. Omdat hy nie kan opbou nie is sy enigste uitweg die afbreek van iemand anders.
Net soos n slagoffer gered kan word, net so kan n bliksem ook gered word - mens is net nie lus om so n ou te red nie!
Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. (2Kor. 5:17)
God verander die mens, Hy het my verander in iets wat byna bruikbaar is, 
Daarom weet ek hy kan enige iemand verander. God verander ons binne ons situasie en veroorsaak dan dat ons uit ons omstandighede kan groei.
Ons bevind ons soms knie diep in die ......., dit word die bemesting wat ons nodig het om te ontwikkel.

My gebed vir jou is dat jy mag insien dat verandering moontlik is, dat daar meer in die lewe is as wat jy nog altyd gedink het.
Woorde maak en breek n mens.
God het ook gespreek.