Saturday, 10 May 2014

Ek hou van n man wat sy man kan staan .......

Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,
ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan,
'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk
en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!

Die gedig "Trou" van Jan F. Cilliers sal seker immergroen bly, al word daar verskeie ideologiese standpunte aan gekoppel en afgelei.
Maar hierdie week het ek gewonder oor die "Manne".
Omstandighede was van so n aard dat ek die week, by meer as een geleentheid, moes staat maak op die woord van n man. Maar al wat ek raak loop was die pragmatis en die opportunis....daardie manne wat sake doen met n donkerbril op die gesig.
Hulle lieg so dat hul eie praatjies hul tot trane bring! Ek is siek en sat van hierdie jellievisse! Ek gaan nie teem en kla oor party ma''s se kinders nie, meer een ding is verseker - ek het n nuwe fokus gekry.
...Nou het ek begin bid - moenie my verkeerd verstaan nie, ek bid altyd (ek is immers n predikant) - maar ek het begin bid vir n kerk vol manne, manne soos waarvan oorle  Oom Jan Cilliers gedig het. Manne wat met n kyk jou mond snoer, wat met n handdruk sy lewe sal gee. n Man van sy "ja" en n man van sy "nee".
Manne wie siel geroer kan word deur die Genade van God, maar nie n duim sal wegbeweeg van sy beginsels, geloof en normes nie.
Ek soek manne wat jy agter jou rug kan vertrou met n skerp ding in die hand, ek soek manne met die brandende lig van n visie in sy oe en n ferm trek om sy mond wat gebore is uit die besluit om hierdie visie te volg. Ek soek n kerk vol manne wat die aarde laat beef met die donderweer van hul aanbidding.
My siel verlang na BROERS wat soos ankerpale saam my kan staan te midde van n stormsee van kompromie, eiewaan en selfsug.
Ek soek manne wat die samelewing wil verander en kan verander.
Ek soek die manne vol leeumoed en hande wat bou en nie breek nie.
Ek bid en vra: "Maak my so n man, o Heer, en gee my dan sulke broers weerskante van my. Maak ons dan 300, en dan, o Heer, lei U ons.

O, 'k hou van 'n man wat sy man kan staan;
ek hou van 'n daad wat soos donder slaan,
'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk
en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!

* Vir die volledige gedig van Jan F. Cilliers gaan na: TROU